Wednesday 3 June 2009

Kringe om die maan!


Sou dit wees waarvan Coenie de Villiers in sy liedjie: "Kringe om die maan"sing? Dinsdagaand so van 18:30 tot 19:30 het die maan en `n klompie wolke vol yskristalle vir hierdie buitengewone skouspel gesorg. Dit staan bekend as die 22-grade maankring.

Hierdie kring onstaan wanneer lig deur die seskantige yskristalle in die baie hoë Cirrostratus-wolke weerkaats teen `n hoek van 22-grade. Die verskynsel om die maan kom minder dikwels voor as by die son. (Dankie neef Henk dat jy my gebel het.)
  • Inligtingsbron: Weer en Atmosferiese Verskynsels van Dries van Zyl.

Atlantis veilig terug by Kennedy-ruimtesentrum


Atlantis is in een stuk terug by Kennedy-ruimtesentrum

Monday 1 June 2009

`n "Deep Space Atlas" vir die koue Vrystaat!

Ek het hierdie stukkie gerief by die afgelope ScopeX in Johannesburg raakgeloop. Dit is deur `n Amateur sterrekundige vir amateurs saamgestel.

Wayne Mitchel van die Pretoria-sentrum van ASSA is `n amateur sterrekundige met `n hele paar jaar ondervinding.

Op die agterblad word gesê die boek is veral vir beginners om die naghemel te leer ken, maar ook vir waarnemers met `n teleskoop wat `n uitdaging soek.

Die atlas is in A5-formaat. Oopgevou (A4) is die sterkaart onder en die verskillende voorwerpe word op die boonste helfte uiteengesit.

Die twee soeksirkels (5 grade "finder"scope" en `n 1 graad oogstukveld) op die kaart gee `n aanduiding wat jy met jou toerusting gaan sien.

Daar is ook 12 wyeveld kaarte vir verskillende tye van die jaar om jouself te orienteer waar die konstellasies in die naghemel is.

Ook is daar duidelike aanwysings hou om die atlas te gebruik en hoe jy vir `n waarnemingsessie kan voorberei.

Die kersie op die koek is die bladsye wat gelamineer is. Hoekom? As jy nog nie met `n klam, pap, verfrommelde A4 sterkaart, in die koue nag gestaan het nie, sal jy nie verstaan nie. Die koue klam lug wat vroegoggend in die winter jou teleskoop se spieël toe dou, verander gewone papier in `n pap gemors.

Dit is `n fees om die boek in die donker te gebruik, want die bladsye is swart met al die sterre, ander voorwerpe en die teks in wit. Die skerp kontras maak dat jy baie beter in die donker met jou rooi liggie sien.

Dis `n atlas vir die Suide en dis tog te lekker dat die konstellasies nie onderstebo is nie.

Prys: R480.00
Beskikbaar by: Telescope Shop of Eridanus Optics